YTAH's Weblog


Om te vloek in Afrikaans

Posted in AtraBilious by YTAH on February 27, 2008
Tags: , , ,

Om te kan vloek in Afrikaans is ’n wonderlike ding. Daar is iets aan die klank van die taal – die growwe chi-klank van gat; die harde konsonante van kak en kont; die plofgeluide van poes, piel, en poephol – wat ’n mens mos onbeskryflik kan ontroer: Naai. Moer. Doos. Hoer. Fok. Fokker. Slet. En dan nog nie eers gepraat van die wonderlike woordkombinasies wat bewerkstellig kan word nie: Poesklap. Afkak. Rondfok.

Die makkers van Fokofpolisiekar, byvoorbeeld, het ’n oorlogskreet van ’n naam gekies. Ook maar goed dat hulle op verhoog soos besetenes kan kitaarspeel en hoereer, anders sou hulle sommer vinnig hulself gevind het waar hulle gehoist word met hul eie petard. Want as jy nie kan speel soos iemand wat ’n polisiebeampte in die gesig kan kyk en vir hom – of haar, laat ons nou nie seksisties wees nie – kan aansê om iets onnatuurliks aan hulself te gaan doen nie, dan sou jy maar vinnig moet begin hardloop, want die skare en daai polisiemanne sou jou kom háál. En of hierdie polisiemanne nou die klere van ’n traffic cop, predikant of kleuterskoolonderwyser dra, moet jy weet – as hulle uiteindelik met jou klaar was, sou jy wéét dat jy geháál is.

Genadiglik lewe die band darem die rock’n’roll lewenstyl uit. (En lank mag hulle nóg so lewe.) In teenstelling hiermee verwys ek graag na ’n Afrikaanse taalkundedosent wat destyds vir my en ’n versameling wannabe-voortvlugtiges – glo my, ons wou almal uit daai klas uit onstnap – ’n lesing oor Afrikaanse vloekwoorde gegee het. Ek verseker jou, die kontras kon nie groter wees nie. Nie net tussen die dosent en die band nie, maar ook in dié se instelling teenoor die einste vloekwoorde. Waar die een op verhoog met mening die mikrofoon uitskel, staan die ander in die lesingsaal voor by die bord met haar onverbouereerbare permanente do en skryf suutjies die vuilste woorde netjies uit omdat sy te skaam is om dié uit te spreek. Maar hierdie woorde is mos gemaak om gesê te word; selfs in hierdie artikel kom hulle nie ten volle tot reg nie. (Vergelyk byvoorbeeld die mense wat Fokof se naam afkort tot die meer aanvaarbare “Polisiekar” en sodoende geheel en al die pot mis sit.) Nee, om te kan vloek in Afrikaans moet jy dit in die vlees kan doen, kliphard en uit volle bors – verkieslik voor ’n skare mense, of (self beter) mét of téénoor hulle. Dis maar seker net nog ’n rede om dankbaar te wees aan Fokof – wanneer laas het jý die kans gehad om saam met ’n klomp grootmense die wêreld se self-aangestelde polisiebeamptes uit te skel? Die meeste mense vloek gewoonlik net behóórlik as daar rugby of bier betrokke is.

Maar daar is een groep wat geen sulke hulp benodig nie. En hier dink ek my weer terug aan die Bos, waar ek vir die eerste keer daardie fantastiese woorde gehoor het:

BLOOOOOOOOOOOOOOOOED! KOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOONT!

Ek kan julle verseker dat dit my ’n paar repetisies van dié woord gevat het voordat ek kon uitmaak wat die geskree nou eintlik beteken. (Julle sal seker verstaan as ek verduidelik dat ’n mens se gehoor nie op sy beste is wanneer ’n bergie-damestem vanuit die park agter jou woonstel jou so teen drie-uur die oggend redelik onverwags uit die slaap ruk nie.) Maar toe ek dit uiteindelik kon uitmaak, het ek by myself gedink: Magtag. Dis nou vir jou mos ’n móói skelding daai. Net uniek genoeg om opvallend te wees, en net direk genoeg om onmiddellik beelde by ’n mens op te bring.

Dit was ook destyds toe ek vir die eerste keer opmerk dat my woonstelmaat graag die woord “poes” in gesprek gebruik, moontlik weens dié woord se onfeilbare vermoë om beskaaftes en skynheiliges innig te ontstel. Dis juis tóé dat ek sommer ook die woord meer dikwels begin gebruik, en sélf die wonderlike moontlikhede van vloek in Afrikaans begin ontdek: Poeshare. Poeslippe. Poesklap. Poeswater, ’n kombinasie gebore – hoe onwaarskynlik ook al – na aanleiding van die naam van ‘n afgestorwe publieke figuur in ons landsgeskiedenis, wie se portret ek en my broer eendag raakgeloop het terwyl ons saam museums op die Bos loop en besigtig het. En om nie van dié vloekwoord se suster, “kont”, te vergeet nie: Kontneus. Kontgesig. Kontvreter.

Afrikaanse Taalmonument: Cultural Weapon?

Ek praat nie eens van godslastering nie. Dit sou nou te maklik wees; buitendien kan niks wat ’n mens sê kompeteer met die godlastering wat Sy aanhangers daagliks in Sy naam in woord én daad pleeg nie. (Een moontlike uitsondering: “God se poes.” Miskien maar ietwat voorspelbaar en voor die hand liggend, maar tog – so effektief. En as jy nie vir die groot man kan vloek nie, vir wie kan jy dan nou vloek? As ’n stoflike skepsel soos Britney Spears moet kan cope met mense wat haar slegsê, hoeveel meer sal dit dan nie ’n almagtige, alomteenwoordige wese betaam om minder kleinserig te wees oor die sticks and stones van outrageous fortune nie?) In elk geval is dit nie soseer godslastering wat belangrik is nie. Sogenaamde godslastering is veel meer betekenisvol wanneer dit gemik word op dié wat hulself uitgee as Sy spreekbuise, dié wat voorgee dat die Waarheid aan hulle, en nét aan hulle, geopenbaar is. In God kan jy nou glo of nie glo nie, maar daar is geen getwyfel oor hulle nie: Hulle is met ons, en die effek van hulle optrede is onmiddellik aanskoubaar. Geloof het jy nie daarvoor nodig nie, net ’n moerse klomp geduld en verdraagsaamheid. (“Doen wat ek sê, nie wat ek doen nie,” – meer waarheid het ’n gesegde nog nooit gehad nie.)

Maar laat ek nou uiteindelik by die punt kom. Om te vloek in Afrikaans is om protes aan te teken. Dis om te erken dat jy nie meer jouself wil – of behoort te – beheer nie, dat jy nou uiteindelik genoeg gehad het. Of soos Radiohead op hulle eerste album sing: “I am not a vegetable. I will not control myself.” Dis miskien iets waarvoor daar nie heeltemal ’n ekwivalent in Engels is nie, want om te vloek in Engels kos nie genoeg nie; dis te maklik om fuck of shit of balls te sê. Miskien is dit omdat hulle so lank voor ons punk ontdek het. Miskien is dit slegs my eie kulturele vooroordeel. Maar ek vermoed dis omdat die Calvinisme dieper in ons murg ingeboer is, selfs meer as wat óns wil erken. Hoekom het dit anders so lank gevat vir Afrikaanse musiek om sy FAK-kermis-kultuur af te skud en die punk in sy siel te ontdek?

Om te kan vloek is om aan ’n menigte onfatsoenlike gevoelens uitdrukking te kan gee. Want daar is mos ’n wereld se verskil daartussen om te sê dat jy kwaad is, en om te sê dat jy die fokken móér in is. En die polisiebeamptes van die bewussyn smaak dit mos glad nie, want vir jare probeer hulle vir almal grootmaak en kleinkry. Soos hulle ons mos van kleindag af leer: om in ons harte aan kru taal en vuil gedagtes herberg te gee is mos nie iets wat gehoorsame, beskaafde kinders doen nie. Dis mos net grootmense – die onnies en predikante, die ouers en polisiemanne – wat dit mag doen; die grootmense wat groter sondes mag pleeg, wat met ’n glimlag vir almal nou mooi kan verduidelik wie hulle nou eintlik is, waarmee hulle gelukkig behoort te wees, en waar presies om af te klim. Want hulle weet mos beter, en watse goedopgevoede kind sal nou durf om met hulle te verskil?

So verskoon my – my innige medelye, meneer of mevrou Sondagskoolonderwyser – maar jy kan gerus jou idee van normaal asseblief weereens by jou gat opdruk, want ek is klaar geluister na jou stront, so dit kan nou maar teruggebêre word waar dit vandaan kom. Of soos een van Neil Gaiman se karakters in American Gods sê: “You are so full of shit it’s a wonder your eyes don’t turn brown.”

Dit het my veels te lank gevat om behoorlik in my moedertaal te leer vloek, en dis mos ’n moer se taal. Maar ek het geleer. Glo my, ek het geleer. Dit het moeite gevat, en dit was ’n bebloede stryd, maar oorleef het ek, en ek was sterker daarna. So ek wil Botha, en Fokof, en daai liewe ou bergietannie wat haar vir vier manjifieke jare agter ons woonstelle tuisgemaak het, bedank vir die opvoeding. En ek bedoel dit glad nie ironies nie. Dankie vir dié geleentheid om iets wat die moeite werd was, te ontdek.

Wie weet. Miskien sal ons selfs eendag leer hoe om in Afrikaans te soen.

[Originally posted on http://www.africans.co.za, on Wednesday, February 20, 2008.]

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: